Geskiedenis

1. DIE UNIEKHEID VAN DIE GEMEENTE

Geen boek of dokument sal vir jou kan sê wat enige gemeente uniek maak nie, maar vra net die mense en hulle sal reguit vir jou sê. Baie keer kan die gemeentelede nie ooreenstem met wat presies die gemeente uniek maak nie, en dan lê die uniekheid juis daar – elke persoon ervaar dit anders.

Dit is egter nie die geval vir Brackendal nie, daar stem almal (of minstens die oorgrote meerderheid) saam, dat die uniekheid van die gemeente is dat dit een groot uitgebreide familie is. Die gemeentelede hier (al is daar sowat 1100 lidmate) is elkeen deel hieraan, niemand is net ‘n nommer nie, hoor jy baie. Daar is interaksie tussen mense. Ds. Robert hy was juis daarvoor bekend dat hy mense sommer so van die kansel af gegroet het of met die kinders gesels het. En wanneer daar iemand in nood is (Babas wat verdrink het, ‘n jonk kindjie met Leukaemia en Ds. Robert se siekte, om enkele groot noodverhale uit te wys), spring almal in en bid saam, vat hande en help. Die gemeente is beslis uniek, dis gebou van niks af tot ‘n pratige, selfverantwoordelike gemeente.

Die pad wat die gemeente moes stap om so ‘n groot familie te wees, was ook nie maklik nie. Daar was baie swoeg en sweet, tye van baie geluk en diep hartseer. Alles wat die gemeente aangepak het was vir die bou en groei van die gemeente.

2. DIE AFSTIGTING

In ‘n gemeentekonferensie gehou op 19 Junie 1983 te Brackenhurst gemeente, word twee behoeftes uitgewys. Die een is dat daar binnekort ‘n vyfde predikant aangstel moet word. Die probleem het egter by die tweede behoefte ingekom waar die gebou self slegs byna 50% van die gemeente kon akkommodeer.  Op daardie stadium was die kerk op enige gegewe Sondag so vol dat stoele in die saal uitgepak moes word. Parkering was ook ‘n groot probleem. Dus word NG Kerk Brackendal op 4 September 1984 gebore.

Daarna is daar kerk gehou in twee hoërskole en een laerskool, waar daar elke Sondag oggend voor die diens stoele uitgepak moes word en seker gemaak word dat die saal mooi, skoon en reg is vir die diens. Die ouderlinge en diakens het aan weerskante van die podium op die verhoog gesit en die mense die saal vol.

Met die derde skuif is daar besluit dat die grond wat gekoop is, nie verkoop kan word nie en tog groot genoeg is om ‘n groot kerksentrum te bou en planne hiervoor het begin.

3. DIE KOM EN GAAN VAN PREDIKANTE

Hoewel die gemeente al 31 jaar oud is, was daar nog net drie voltydse predikante aangestel. Ds. Herklaas stig saam met die gemeente af en 'n jaar later (19 Maart 1984) word ds. Piet aangestel as tweede leraar. Ongelukkig besluit ds. Herklaas om die gemeenste te verlaat in 1986 en sowat 'n jaar later word ds. Robert as tweede leraar aangestel.

4. DIE BOU VAN DIE KERK

4.1. Die verhaal van die gebou

Toe daar uiteindelik besluit is om die sentrum te bou was daar groot kommer rondom finansies. Vir baie mense was dit ‘n groot geloofssprong en aanvanklik het dit gelyk of dit die verkeerde besluit was.

‘n Bekende argitek is genader vir die projek en dié het voorgestel dat daar na ander kerkgeboue gekyk word om te bepaal hoe die kerksentrum gaan lyk. Na vele navorsing is planne opgetrek en goedgekeur by die munisipaliteit. Daar is ‘n hele tydlyn saamgestel en die beraamde tyd vir die bou van die sentrum is ongeveer ‘n jaar. Soos enige gemeente maar maak, nader die kerkraad die bouer in die gemeente om die sentrum te laat bou, maar op die aandrang van die argitek, word sy (ook bekende) bouer eerder gebruik, weens die moontlikheid dat die gemeente bouer bankrot gaan speel.

Januarie 1990 is die sooispitsing gehou, om die begin van die sentrum se bou af te skop. Maar kort voor lank speel die bouer in elk geval bankrot en die half geboude sentrum staan stil. Niks word vir ‘n verdere 2 jaar aan die gebou gedoen nie. Dit is toe wat Brackendal gemeente waarlik tot stand gekom het. Toe die bossies aan die binnekant van die murasie begin groei het ‘n charismatiese kerk per geleentheid daar kom bid, en van daar het die mense in Brackendal self begin om van die vervalle plek ‘n huis te maak. Daar is Saterdae opeengeskuif sodat daar verder gebou kan word. Mense uit alle oorde het saamgekom om te help geroeste vensterrame afskuur of pype aanlê. Daar is selfs ‘n kermis gebou in die gebou sonder ‘n dak en in die gat waar die orrel veranderstel is om ‘geplant’ te word het die kinders geswem. By die lidmate staan hierdie kermis veral uit. Dit was die lekkerste een.

Daarna is daar eredienste gehou, waar die lidmate hul eie kampstoele en komberse vir die kinders saamgebring het en Vrydae aande was daar wegneem etes verkoop om geld in te samel.

4.2. Die Hoeksteen

Op 6 September 1992 vind die hoeksteenlegging plaas. Dit was waarlik 'n hoogtepunt aangesien die kerk self nog nie klaar was nie. Elke persoon wat daardie erediens bygewoon het, het hul name op 'n papier geteken en dié is agter die hoeksteen saam met ander dokumentasie ingemessel.

4.3. Die kansel

Die kansel dra ook 'n besondere storie met besondere simboliek wat die essensie van die gemeente vasvang. 'n Famille wat deur die gemeente omring word en saamgebind word deur die liefde van Christus.

5. 1995

In 1995 word die eerste baba uit die gemeente gedoop en ‘n vrou vir die eerste keer tot die kerkraad verkies.