Jeug


’n Gebed vir ons JEUG

 

‘n Gebed vir ons kinders en jongmense.

Vader, ons dra ons kinders en jong mense aan U op.

Ons vra dat U hulle sal beskerm en bewaar, dat U hulle sal sterk maak, bemoedig, onderrig en op die regte pad sal hou. Ons bid dat hulle u liefde sal ervaar en dat hulle standvastigheid en vertroue in U sal vind.

Ons bid vir ons kinders wat grootword in ’n wêreld vol uitdagings en beproewings, waar dinge soos dwelms, drank, promiskuïteit, misbruik en mishandeling alledaags geword het, en waar hulle dikwels in die versoeking gebring word om hiervoor te swig. Mag hulle in U ’n sterk vesting en veilige skuilplek vind. Gee vir hulle die krag om te kan ‘nee’ sê wanneer hulle voor versoekings te staan kom. En wanneer hulle die seer ervaar van misbruik of mishandeling, mag hulle die stem vind om daaroor te praat en die bevryding en genesing te ervaar wat net U kan bring. Ons bid dat hulle die hulp mag vind wat hulle so nodig het. Bring heling in hul gesinne waar dit nodig mag wees en bind hulle as gesin saam met u onbreekbare band van liefde en aanvaarding.

Ons bid vir die kinders wat sonder ’n vader grootword. Vader, breek hierdie bose kringloop en herbou verhoudings tussen vaders en hul kinders, sodat ons jongmense ook u Vaderhart mag leer ken uit hul vaders se voorbeeld. Wees ’n Vader vir dié wat vaderloos is, en vertroos hulle en leer hulle om in u liefde vrede te vind.

Ons bid vir ons jongmense se studies, hetsy op skool of naskools. Ons bid vir uithouvermoë en helderheid van verstand. Mag hulle altyd hul beste gee en die gawes wat U hulle skenk, volkome benut. Mag hulle mekaar bemoedig en aanmoedig en mag hulle altyd die goeie nastreef. Help leerders en studente om teleurstelling nie te sien as ’n maatstaf van hul waarde as mens nie, maar as ’n kans op ’n nuwe begin. Gee hulle die krag om hul geloof in U en hul lewensvreugde te behou.

Vader, ons bid vir onderwysers en dosente, en dat hulle ’n positiewe voorbeeld ’n inspirasie sal wees, ’n ligbaken in die leerskool van lewe. Ons dank U vir mentors en onderwysers, jeugwerkers en geestelike leiers wat kinders en jongmens begelei en toerus vir die lewe. Ons dank U vir elkeen wat hulle help om U beter te leer ken, vir elkeen wat daar is om te gesels en te luister.

Ons bid vir kinders wat sonder positiewe rolmodelle moet grootword. Ons bid dat U die harte van mense in hul gemeenskappe sal aanraak, sodat hulle ook na hierdie jongmense sal uitreik en begelei om volgens u waardes te leef en die plan wat U vir hul lewe het, te ontdek. Mag hierdie kinders en jongmense U ook as liefdevolle Vader leer ken en vertrou.

Vader, ons dank U vir die jongmense wat reeds op ’n jong ouderdom u stem hoor en gehoor gee aan u opdrag om dissipels te maak. Ons dank u vir elkeen wat ander leer en bemoedig en in en deur wie se lewens u Naam grootgemaak word vir die wêreld om te sien en te hoor. Seën hulle en hou hulle in u hand vas, naby aan u Vaderhart.

Vader, ons bid hierdie gebed omdat ons weet dat ons kinders en jongmense u hart se punt is, en dat U ’n wonderlike plan vir elkeen van hulle het.

Amen.

 

KINDERS van JESUS 

DIE STORIE VAN DIE SKIPPIE

Daar was n klein seuntjie wat so graag n klein skippie wou gehad het om op die water mee te speel. Toe hy nêrens so n skippie in die hande kon kry nie het hy besluit om self een te maak. Hy het dae daaraan gewerk en uiteindelik dit reggekry om so n speelgoed skippie te maak. 

Daar naby was n stroompie water en hy kon nie wag om die skippie op die water te sit nie. Die skippie het baie mooi op die water gedryf. Ongelukkig het die seuntjie langs die stroompie aan die slaap geraak. Toe hy wakker word het die skippie met die stroom af gedryf en verdwyn. Hoe hy ook al gesoek het, hy kon die skippie nie weer kry nie. Hy is huil-huil terug huis toe. 

Eendag loop hy in die dorp en sowaar daar sien hy die skippie in n pantjieswinkel. Die eienaar van die winkel wou die skippie egter nie vir hom gee nie, maar was bereid om die skippie aan die seuntjie te verkoop. Die seuntjie is gou huis toe en het al sy spaargeldjies geneem en die skippie gaan koop. 

Toe hy die skippie kry, neem hy dit, druk dit teen hom vas en se: 'Skippie jy is nou dubbeld myne. Ek het jou gemaak en ek het jou gekoop'

So het Christus ons ook gemaak. Ons het egter weggedrywe van Hom af. Toe het Christus gekom en met Sy kosbare bloed ons gekoop. Wanneer ons in Christus glo druk Hy ons ook teen Sy bors en sê: 

'Jy is nou dubbeld myne.
Ek het jou gemaak en
Ek het jou gekoop.'

Ds. Deon Burgers

 

JEUG vir JESUS - STAAN VAS

Het jy al ooit gehoor van die woord volstruispolitiek? Volstruis-politiek beteken om kop weg te steek vir probleme en vir sekere situasies, nes n volstruis doen as daar moeilikheid is – hulle hol n paar draaie en as hulle dan besef hulle het steeds nie die gevaar ontduik nie, steek hulle maar hulle koppe in n gat weg. Is dit nie verskriklik dat ons as mense met volstruise vergelyk kan word nie? Hol volspoed weg vir die moeilikheid en vergeet gou van ons probleem deur ons koppe in ander dinge en dikwels verkeerde dinge weg te steek. Ons vergeet dikwels om volspoed in die Here se arms in te hardloop en ons kop vol skaamte in Sy genadige skoot te laat sak. 

Sommer al in die eerste week van skool, was my trane vlak omdat ek gesien het hoe mense wat ek weet, lief is vir die Here, omdraai en wegloop van die Here af. Hulle gaan kruip weg in dinge wat ons as kinders van God, nie voorstaan nie. Ek besef toe met n skok dat ons, as nuwe generasie, besig is om ons waardes en voorbeeld as kinders van God te verwaarloos. Ons ”go with the flow” en aanvaar dat enige iets aanvaarbaar is, want die groep doen dit dan! Ons lewe gaan net oor onsself en ons geluk en ons vergeet dat die Here dalk beter weet as ons grootste droom. 

Ek dink nie een van ons kan stry nie. Is dit nie vir ons as tieners soveel makliker om net vir ons probleem weg te kruip, liewer as om dit te face nie - as om dit in die oë te kyk en selfversekerd te bly, al voel ons die veroordeling, groepdruk en verwerping van vriende of vriendinne (selfs die wat jy gedink het vir jou omgee). 

Ons ken nie mekaar se situasies nie. Jy is dalk die een wat vas staan vir wat jy glo as n kind van God, of jy kon dalk al n groot fout gemaak het en jou voete kon dalk al geswig het voor n slegte situasie. Onthou altyd dat God se ontferming groot is en Hy jou ook altyd sal help om weer op jou voete te kom. Hy los jou nooit alleen nie. Jy moet net die pad na vergifnis en n oor- begin aanvaar. 

Dit is juis dit wat ons as Christen kinders anders maak, die wete dat ons soos Timoteus 4:12 leef – Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit. Dit waarvoor jy staan het werklik n impak, dit is wat jou onderskei van ander en wat jou in staat stel om n verskil om jou te maak.